Die son


  • Waarvan is die son gemaak?
  • Waarvan is sterre gemaak?
  • Hoe ver weg is die son?
  • Die son lyk so klein daar bo in die lug, hoe is dit dn moontlik dat die son groter as die aarde is?
  • Waarom is die son so belangrik vir ons en vir alle lewende dinge op die aarde?

Hoe om die onderwerp in te lei.

[Wat is die son? Waarheen gaan dit in die aand? Waarom is dit partykeer warm en partykeer koud? Is die son swakker in die winter?]

Jy moet vir jou leerders verduidelik dat die son nie soos 'n vuur brand nie. 'n Vuur het brandstof, soos hout of steenkool, nodig en dit het lug nodig. Die son brand nie so nie. Die gas waterstof verander die heeltyd in 'n ander gas helium. Hierdie verandering maak die son baie warm. Die son brand deur middel van kernreaksies. Waterstof word so hard saamgedruk in die middel van die son dat dit in helium verander. Hulle hoef nie die term "kernreaksies" te verstaan nie, maar dit help ons om nie te sê dat die son soos 'n vuur brand nie.

Daar is twee aktiwiteite wat leerders wys hoe groot die son in vergelyking met die aarde is. Dit sal later belangrik word. Die leerders moet verstaan dat die son so groot is dat die gravitasiekrag waarmee dit die ander planete aantrek hulle in hul wentelbane hou, selfs al is hulle so ver weg soos Neptunus.

Die son is die naaste ster.


Ons noem die son 'n ster. Jy het seker gedink mens sien sterre net in die nag, né? Dit is omdat die son die naaste ster aan ons is. Die ander sterre in die lug is baie, baie verder weg. Kom ons vind meer uit oor die son.

Die son tydens verskillende fases van die vroeë oggend.

Die son is 'n groot bal baie warm gasse.


Ons son is regtig baie warm - dit is 'n groot bal waterstofgas. Die gas verander die heeltyd in helium en hierdie verandering gee die energie af wat die son baie warm maak.

Dit is hoe die son lyk deur 'n spesiale kamera. Jy moet nooit direk na die son kyk nie.

Die temperatuur van die son is omtrent 5 500 grade celsius op die oppervlak. 5 500 grade celsius is genoeg om rotse te smelt.

Die son het donker vlekke wat ons met 'n spesiale kamera kan sien. Die donker vlekke beweeg op die oppervlak van die son net soos die gas in die son die heeltyd beweeg. In hierdie foto kan jy sien dat die son groot strome warm gas uitskiet. Jy behoort dit aan die linkerkantste onderkant van die foto te kan sien.


Die son is baie groter as die aarde.


Die son mag dalk kleiner as die aarde lyk as ons in die lug daarna kyk, maar dit is eintlik net omdat dit baie ver weg is. Die son is baie groter as die aarde.

Die volgende aktiwiteit kan buite op die sypaadjie gedoen word waar jy met bordkryt kan teken. Andersins kan jy 'n sanderige area gebruik waar jy met jou vinger in die sand kan teken. Die sypaadjie gaan egter beter werk.

Hoe groot is die son in vergelyking met die aarde.


BENODIGHEDE:

  • 'n stuk sypaadjie.
  • 'n liniaal of maatband
  • 'n stuk tou of lint wat nie langer as 60cm is nie
  • 'n stuk bordkryt

INSTRUKSIES:

  1. Teken 'n sirkel, 1cm in deursnee, op die sypaadjie met die bordkryt. Dit verteenwoordig die aarde.
  2. Beweeg nou so 1.5 tot 2 meter weg van die klein aarde wat jy geteken het en gee jouself genoeg spasie om die son te teken.
  3. Teken 'n sirkel met 'n deursnee van 108cm - dit verteenwoordig die son.
  4. Om 'n sirkel te teken met 'n deursnee van 108cm bind 'n stuk lint of tou om die bordkryt. Meet 54cm tou vanaf die bordkryt en maak daar 'n knoop. Hou die knoop op die bord vas en beweeg die kryt om die knoop om 'n sirkel te trek.

VRAE:

As die son soveel groter as die aarde is, hoekom lyk dit vir ons so klein?


Omdat die son so ver weg is.


Die skets op die sypaadjie wys die aarde redelik naby aan die son. Die aarde is eintlik baie ver van die son. Dit is 150 miljoen kilometer van die aarde af. Dit is 150 000 000 kilometer.

Dit is regtig baie ver van die aarde na die son toe. As jy in 'n kar op die snelweg teen 'n spoed van 120km/h sou ry, sou dit jou 146 jaar neem om by die son uit te kom. Die son is dus baie ver weg, dit is baie groot en baie warm.

As die son so ver weg is, hoekom lyk dit so groot? Die son is so groot dat dit moeilik vir ons is om te verstaan hoe groot dit regtig is. Ons kan 'n model gebruik om dit te verstaan.

Gebruik 'n model om te wys hoe ver die aarde van die son af is.


Hierdie is 'n demonstrasie - die klas hoef nie buitentoe te gaan nie; hulle kan deur die venster kyk. Alternatiewelik kan jy die sokkerbal en die rys so opstel dat jou leerders dit kan sien as hulle in die klas instap.

BENODIGHEDE:

  • 'n ryskorrel; breek dit in die helfte
  • 'n sokkerbal
  • spasie om te beweeg soos die speelgrond of sokkerveld.

INSTRUKSIES:

  1. Kyk na die prent hier onder.
  2. Een leerder staan op 'n plek waar daar baie spasie om hulle is. Die leerder hou die sokkerbal vas. Die bal verteenwoordig die son.
  3. Nog 'n leerder staan langs haar en hou die halwe ryskorrel vas. Dit verteenwoordig die aarde.
  4. Die leerder wat die rys vashou beweeg weg van die leerder met die sokkerbal. Hy gee 24 van die grootste treë wat hy kan gee. Die afstand is omtrent 24 meter. Die 24 meter verteenwoordig die afstand van die son tot die aarde.
  5. Die leerder met die halwe ryskorrel begin nou na regs beweeg. Hy moet heeltyd 24 meter van die sokkerbal af bly. As hy dit doen sal hy in 'n sirkel om die sokkerbal loop.

Die model wys ons dat die klein aarde in 'n sirkel om die groot son beweeg.

Die sokkerbal verteenwoordig die son en die halwe ryskorrel die aarde.

VRAE:

Staan 24 meter weg van die sokkerbal. Hou een vinger voor jou op en maak die sokker bal toe met jou nael. Is die sokkerbal regtig so groot soos jou nael?


Nee

Hoekom lyk die bal so groot soos jou nael?


Omdat die bal so ver weg is.


Die son is so groot dat duisende en duisende aardes binne-in die son kan pas. In hierdie prent kan jy sien hoe hulle groottes vergelyk.

Dis is hoe die grootte van die aarde vergelyk met die grootte van die son. Die aarde is nie regtig so naby aan die son nie.


Die son is die naaste ster aan die aarde.


Ons son is soos die sterre wat ons in die aand in die lug sien. Baie van die sterre is baie groter as die son. Hulle lyk so klein omdat hulle baie ver weg is. Al die sterre is van gas gemaak wat gloei en baie warm is.

Weet jy wat 'n teleskoop is? Dit is soos 'n groot, baie sterk verkyker wat ons toelaat om voorwerpe in die ruimte te sien. Sonder 'n teleskoop kan ons omtrent 2 500 sterre sien, maar met 'n teleskoop kan ons miljoene sterre sien.

Ons kan honderde duisende sterre deur die Hubbel-teleskoop sien. http://www.nasaimages.org/luna/servlet/detail/NVA2~34~34~80665~136130:Glittering-Metropolis#

Sterre wat 'n rooi-oranje skynsel het is nie so warm soos die son nie. Sterre wat blou-wit lyk is baie warmer as die son.

Die kleur van die sterre vertel ons van hulle temperatuur.


INSTRUKSIES:

  1. Kyk na die foto hier onder en beantwoord die vrae wat volg.

Hierdie is 'n foto van NASA van die sterswerm Omega Centauri, wat al die verskillende, kleurvolle sterre wys.

VRAE:

Is daar meer rooi of blou sterre in die foto?


Watter sterre is die warmste?


Die blou sterre.

Watter kleur ster is die son?


geel


Die son is die naaste ster aan die aarde. Die tweede naaste ster word Proxima Centauri genoem. Lig van die son neem 8 minute om jou oë te bereik,maar lig van Proxima Centauri neem langer as 4 jaar om ons oë te bereik. Die Voyager1 is 'n ruimtetuig wat baie jare terug vanaf die aarde lanseer is. Dit beweeg baie vinnig weg van die son af teen 'n spoed van 17 kilometer elke sekonde. As Voyager na Proxima Centauri sou reis, sou dit meer as 73 000 jaar neem om te arriveer.


Die son is belangrik vir lewe op aarde.

Sonder die son is lewe op aarde nie moontlik nie. Dit sal heeltemal donker en yskoud wees. Die son verskaf met ander woorde hitte en lig vir die aarde. As gevolg van die hitte en lig is baie ander dinge moontlik.

Die son stuur hitte en lig na die aarde. Die aarde kry slegs 'n klein deel van die hitte en lig wat die son uitstuur, maar selfs dit is genoeg om ons op 'n warm dag ongemaklik te maak.

Ons hang ons wasgoed buite om droog te word. Die hitte van die son help om die klere droog te maak. http://www.flickr.com/photos/wmshc_kiwitayro/3520297538/sizes/l/in/photostream/

Mense het 'n sonwyser soos die een gebruik om te sê hoe laat dit is. http://www.flickr.com/photos/calliope/440681335/sizes/l/in/photostream/


Waaraan kan jy nog dink waarmee die son ons op die aarde help?



Ons kan rigting vind; plante groei met sonligenergie; ons kan in die son baai; die son maak ons warm.

Die son gee energie vir alle lewende dinge op die aarde. Onthou jy toe ons laas kwartaal in Energie en Verandering geleer het hoe die son energie vir lewe op aarde gee?

Die son se hitte en lig voorsien energie vir die hele sonnestelsel, maar die aarde is die enigste planeet waarvan ons weet wat lewe het. Plante en diere oorleef op die aarde omdat die planeet warm is en die atmosfeer lug het wat ons kan inasem.



Party mense het spesiale verwarmers op hul huise se dakke. Hierdie word son-waterverwarmers genoem wat die hitte-energie van die son gebruik om water vir bad en wasgoed was warm te maak.

'n Son-waterverwarmer op die dak van 'n huis. Die water is in die tenk.

Ongelukkig het die son ook skadelike uitwerkings op die aarde en veral op mense as ons onsself nie ordentlik beskerm nie.

As daar nie genoeg reënwater is nie, kan daar droogte kom. http://www.flickr.com/photos/sanderovski/4712725540/

Die son kan jou vel beskadig as jy nie versigtig is nie. 'n Mens moet altyd sonbrandroom aansmeer as jy buitentoe gaan.

  • Die son is 'n ster. Dit is 'n baie, baie groot bal gas. Dit is meer as 'n miljoen keer groter as die aarde!
  • Die aarde is 150 miljoen kilometer van die son af. Dit is baie ver.
  • Die son is so warm dat dit die aarde al die lig en hitte gee wat ons nodig het.
  • Die naaste ster is so ver weg dat dit lyk soos 'n klein gaatjie wat 'n spelt in 'n papier steek.

Hersiening


Skryf die sinne uit en voltooi hulle. Kies van die woorde uit die woordelys om die sinne te voltooi. Skryf die hele sin uit.

Wanneer ons die grootte van die aarde met die grootte van die _____ vergelyk, is die aarde die grootte van 'n _____ vergelyk met die grootte van 'n sokkerbal.



Son, halwe ryskorrel

Die son gee _____ en _____ vir die aarde. Alle _____ het lig en hitte nodig.



lig, hitte, plante

Die son brand nie soos 'n houtvuur nie. Die son is warm omdat _____ verander in _____.



waterstofgas en heliumgas

Woordelys. (Jy hoef nie al die woorde te gebruik nie)

waterstofgas

heliumgas

plante

lig

hitte

halwe ryskorrel

son

'n sokkerbal

die maan