Geprosesseerde materiale


  • Wat is rou-materiale, natuurlike materiale en geprosesseerde materiale?
  • Watter tradisionele prosesseringsmetodes is deur mense gebruik om materiale meer gewenste eienskappe te gee?

Bekendstelling van die eenheid

Hierdie eenheid gee aan leerders die geleentheid om te dink aan materiale in terme van die onderskeid tussen rou en geprosesseerde materiale. Dit is ook 'n geleentheid om 'n verband met Inheemse Kennnis te skep wanneer die tradisionele metodes van prosessering bespreek word, en om die leerders se aandag te vestig op die feit dat baie van hierdie tradisionele prosesseringsmetodes vandag steeds gebruik word. Hulle is meestal in lyn met volhoubare lewenswyses, en gevolglik is hulle besig om baie gewild te raak. Die inleiding tot hierdie eenheid hou verband met al die eenhede wat dit voorafgaan.

Eienskappe en gebruike


Ons noem materiale wat nog nie geprosesseer is nie rou-materiale. Rou-materiale word in ander dinge omskep. Wanneer rou-materiale in die vorm waarin hulle in die natuur gevind word is, kan ons hulle natuurlike materiale noem. 'n Natuurlike materiaal is enige materiaal wat van plante, diere, of die grond af kom.

Ons het geleer dat daar baie verskillende maniere is waarin materiale geprosesseer kan word om hulle nuwe eienskappe te gee. Na prosessering mag hulle anders lyk, ruik, voel of proe. Hulle sal waarskynlik ook vir 'n heeltemal ander doel gebruik word as vantevore.

Geprosesseerde materiale is materiale wat deur mense vanuit rou-materiale geraffineer of gebou is. Voorbeelde sluit in papier, staal en glas.

Rou- of geprosesserde materiaal?


Onderwysersnota: In hierdie aktiwiteit moet die leerders 'n lys van materiale bestudeer, en dan besluit watter verteenwoordig rou-materiale en watter verteenwoordig geprosesseerde materiale. Dit word aanbeveel dat hierdie as 'n klein-groep aktiwiteit gedoen word, aangesien dit bespreking en gesamentlike besluitneming verg.

AANWYSINGS

  1. Hieronder is 'n lys van verskillende materiale.
  2. Jy moet saam met jou groep die materiale in twee kategorieë sorteer: rou-materiale, en geprosesseerde materiale.
  3. Julle moet die materiale eers in julle groep bespreek voordat julle 'n besluit neem oor watter kategorie hulle in is.

Brood

Minerale uit 'n myn

Wors

Rys

Metaalmeubels

Koring

Mieliemeel

Houtmeubels

Dierevel

Tandepasta

Leerskoene

Heuning

Groente

Petrol

Ru-olie

Vleis

Skulphalssnoer

Mielies

Hout

Metaal uit 'n myn

Groentesop

Al die materiale in die lys hierbo is in die tabel hieronder saamgevat. Bespreek elke materiaal in jou groep, en besluit hoe om dit te klassifiseer. Is dit 'n rou-materiaal of 'n geprosesseerde materiaal? Kom dit vanaf plante, diere of die grond? Jy kan die tabel gebruik om jou te help.

Kategorieë van materiale:

Materiaal

Watter tipe materiaal is dit? (rou- of geprosesseerd)

Wat is die oorsprong van die materiaal? (plant, dier, or Aarde)

Brood

Geprosesseerd

Plant

Rys

Rou

Plant

Mieliemeel

Geprosesseerd

Plant

Tandepasta

Geprosesseerd

Aarde (minerale)

Groente

Rou

Plant

Vleis

Rou

Dier

Hout

Rou

Plant

Heuning

Rou

Dier

Wors

Geprosesseerd

Dier

Metaalmeubels

Geprosesseerd

Aarde

Houtmeubels

Geprosesseerd

Plant

Leerskoene

Geprosesseerd

Dier

Petrol

Geprosesseerd

Aarde

Skulphalssnoer

Geprosesseerd

Dier

Minerale uit 'n myn

Rou

Aarde

Ru-olie

Rou

Aarde

Mielies

Rou

Plant

Koring

Rou

Plant

Dierevel

Rou

Dier

Groentesop

Rou

Plant

Metaal uit 'n myn

Rou

Aarde

VRAE

  1. Stel 'n nuwe tabel op, waarin jy elke geprosesseerde materiaal langs die rou-materiaal waarvan dit gemaak is, plaas. Byvoorbeeld, in die tabel hieronder is brood en koring langs mekaar, omdat brood van koring gemaak kan word.
  2. Probeer om soveel rou-materiale en geprosesseerde materiale as wat jy kan in jou tabel bymekaar te pas.
  3. Watter van die materiale het nie by ander materiale gepas nie? Kan jy dink aan gepaste materiaal om te pas by elkeen wat nie 'n passende materiaal het nie?

'Halssnoer gemaak van skulpe', 'groentesop' en 'rys' het nie bypassende materiale nie. Gebruik u diskresie om die leerders se antwoorde te evalueer; 'n paar moontlikhede is in die tabel aangedui.

Geprosesseerde materiaal

Rou-materiaal

Brood

Koring

Mieliemeel

Mielies

Tandepasta

Minerale uit 'n myn

Wors

Vleis

Metaalmeubels

Metaal uit 'n myn

Houtmeubels

Hout

Leerskoene

Dierevel

Petrol

Ru-olie

Skulphalssnoer

Seeskulpe

Groentesop

Groente

Ryspap / ryskoekies / 'Rice Crispies'

Rys


Materiale wat geprosesseer is, is baie nuttig vir ons omdat hulle spesiale eienskappe het. Ons weet reeds dat geprosesseerde materiale sterk en duursaam kan wees. Maar watter ander eienskappe het hulle? Kom ons kyk na 'n voorbeeld.

Wat trek jy aan wanneer dit buite reën? Sommige geprosesseerde materiale word gebruik omdat hulle waterdig is. 'n Reënjas en 'n sambreel is gemaak van materiale wat waterdig is. Miskien dra jy waterstewels? Hierdie skoen is besonder waterdig en gemaak van geprosesseerde plastiek en rubber.

Hierdie man dra 'n reënjas en het 'n sambreel gemaak van waterdigde materiale.
Hierdie pienk reënstewels is baie waterdig!

Verf is 'n geprosesseerde materiaal. Sommige van die pigmente wat in verf gebruik word is natuurlike materiale, maar die finale produk is 'n geprosesseerde materiaal.


Onthou jy dat ons laastermyn pigmente genoem het? Wat was die groen pigment wat in fotosintese gebruik word om voedsel vir plante te maak?


Chlorofil.


Paint is a processed material.

Watter spesiale einskappe van verf maak it vir ons bruikbaar?

Verf is in vloeibare vorm sodat dit maklik op 'n oppervlakte geverf kan word. Verf het ook kleur sodat dit as versiering kan dien.

Dink aan al die gevalle waar mense verf gebruik en skryf dit neer.



Ons verf die mure van ons huise, ons verf die buitemure van geboue, ons verf dakke, ons verf heinings (veral ysterheinings om hule teen roes te beskerm), kunstenaars gebruik verf om skilderye te skep, mense gebruik verf om kennisgewingborde te skep wat inligting oordra, ons verf padtekens op die pad om motorbestuurders te help om te weet waar om te gaan.


Ons het nou-net gesien dat geprosesseerde materiale gebruik kan word omdat spesiale eienskappe soos byvoorbeeld kleur het. In die vorige hoofstuk het ons gekyk na beton en hoe om beton te maak deur verskillende materiale te kombineer. Maar omdat beton verskillende teksture kan hê, kan dit ook dekoratief gebruik word. Kyk n die prent hieronder, wat sou 'n idee sal gee van die verskillende teksture van beton en hoe dit gebruik word om 'n interessante oppervlak te maak!

Hierdie sal 'n prettige aktiwiteit wees om die leerders vir 'n wandeling om die skool te neem om te sien hoeveel verskillende teksture julle op die geboue, paadjies, sypaadjies, ens. kan identifiseer. Leerders kan af-etsings maak deur stukkies papier en potloode of waskryte te gebruik.

Sjoe, ek het altyd gedink dat beton só vervelig is!

Dis reg, Tom! En daar is so baie ander eienskappe wat ons kan bespreek, soos byvoorbeeld dat dit vuurbestand kan wees! Maar dit sal beter wees vir jou om uit te gaan en dit vir jouself te sien, sodat jy met nuwe oë na die materiale om jou kan kyk.

Die ondersoek van geprosesseerde materiale in die wêreld rondom ons


Hierdie kan gebruik word as 'n moontlike projek waarin leerders hulle bevindings as 'n plakkaat, pamflet of mondeling aan die klas moet voorlê. Moedig die leerders aan om te eksperimenteer me die teken, en selfs die maak van af-etsings, van verskillende teksture. U kan klastyd gebruik vir die leerders om in die klas en skoolgronde rond te loop om materiale wat gebruik is te ondersoek, en 'n gedeelte van die projek kan as huiswerk gegee word sodat leerders geprosesseerde materiale in hulle huise en gemeenskappe kan bestudeer. Hierdie aktiwiteit kan ook gekombineer word met vakke soos Kuns (gebruik van die af-etsings of 'n kunswerk te skep), of Taal (mondelinge voordrag).

AANWYSINGS

  1. Jou taak is om voorbeelde van geprosesseerde materiale, veral nie-metale, in die wêreld rondom jou te vind.
  2. Jy moet kyk na waarom daardie spesifieke materiaal gebruik is, en hoe sy eienskappe help om hom vir ons bruikbaar te maak.
  3. Jy moet twee veskillende plekke kies om vir materiale te soek. Die een plek kan die skool of klaskamer wees, die ander kan jou huis of jou gemeenskap wees.
  4. In Hoofstuk 2 het jy 'n aktiwiteit gedoen waarin ons die gebruike van metale ondersoek het, maar nou moet jy fokus op die gebruike van nie-metale wat geprosesseerde materiale is. Hout, byvoorbeeld, is nie in hierdie kategorie nie. Dit is 'n nie-metaal, maar is nog nie geprosesesseer nie.
  5. Jy moet jou bevindings aanbied op die manier wat deur jou onderwyser voorgeskryf is - miskien as 'n plakkaat, 'n mini-boek of 'n vertoonlêer ('flipfile').
  6. Sluit 'n paar prente of tekeninge van die materiale by jou projek in. Jy kan selfs af-etsings van verskillende teksture maak!
  7. Probeer om ten minste 4 verskillende geprosesseerde materiale op elkeen van die plekke te vind. Die materiale moet vir verskillende doele gebruik word, en verskillende eienskappe hê.

In die volgende afdeling sal ons van sommige van die maniere leer waarop mense in die ou dae materiale geprosesseer het. Sommige van hierdie tradisionele prosesseringsmetodes word vandag nog gebruik!


Tradisionele prosessering


Hierdie afdeling is redelik lees-intensief. Daar is twee redelik lang stories oor 'n Khoikhoi jongeling, Heitsi, wat verskeie metodes van tradisionele prosessering beskryf. Die stories is op so 'n manier geskryf dat hulle feitelik korrek is, en mag dus goed skakel met ander vakke soos Lewensoriëntering en Sosiale Studies.

'n Goeie idee sal wees om hierdie stories as begripsoefeninge te gebruik. Afhangende van die leesvaardighede van die leerders mag u besluit om die stories aan hulle te lees, of hulle om die beurt toe te laat om elkeen een paragraaf te lees. (Dit is 'n CAPS vereiste dat 'leerders gereeld behoort te lees, skryf, teken en praktiese take doen'.) Nog 'n idee mag wees om leerders te vra om die twee stories oor Heitsi en sy familie as 'n rollespel op te voer.

'n Belangrike kulturele boodskap om oor te dra is die ondernemingsgees van ons voorsate, en hoe hulle dit wat beskikbaar was gebruik het om hulle lewens meer gemaklik te maak.

Mense het reeds vanaf die vroegste tye materiale geprosesseer. In die ou dae was slegs natuurlike materiale beskikbaar, en het mense baie slim maniere gevind om hierdie materiale meer bruikbaar te maak.

Die eerste mense wat in ons land geleef het, het maniere gehad om hout te been te verhard om gereedskap en wapens vir jag te maak. Hulle het ook maniere gehad om die modder wat hulle vir die maak van tradisionele hutte gebruik het, te versterk. Hulle het geweet watter materiale die beste klere en komberse maak, en watter gras die sagste beddens maak. Hulle het ook presies geweet watter riete die beste matte maak waarmee mure bedek kon word, en hoe om die beste huise vir hulle klimaat en leefstyl te bou.

Sommige van hierdie tradisionele maniere van materiaalprosessering word vandag steeds gebruik. In hierdie afdeling gaan ons meer oor hulle leer.

Tradisionele materiale en prosessering


Voordat Suid-Afrika 'n land was, het 'n aantal interessante groepe mense in ons land gebly. Die Khoikhoi-mense was een van die eerste nasies wat in ons land gebly het, en baie moderne Suid-Afrikaners is afstammelinge van die Khoikhoi. Die Khoikhoi was pastorale mense wat bokke aangehou het, maar ook diere gejag het vir hulle vleis en velle.

AANWYSINGS

  1. Die volgende storie vertel ons van 'n jong Khoikhoi jagter, Heitsi, wat homself voorberie om op 'n ekspedisie te gaan om 'n springbok te jag.
  2. Lees die storie aandagtig, en wees op die uitkyk vir leidrade oor hoe Heitsi se mense materiale gebruik en geprosesseer het.
  3. Wanneer jy die storie klaar gelees het, beantwoord die vrae wat volg.

Heitsi berei voor vir die jagtog

Heitsi is besig om sy jagtoerusting vir die jagtog gereed te kry. Hy is nog nie 'n man nie, maar hy is reeds 'n goeie jagter. Toe hy 11 somers gelede gebore is, het sy ma hom vernoem na Heitsi-ebib, 'n mitiese jagter, towenaar en krygsman in die stories van sy mense. Sy pa en ooms het hom geleer hoe om die tradisionele jagwapens van die Khoikhoi, die pyl-en-boog en die 'kierie' (of gooistok), te gebruik.

Heitsi is baie opgewonde oor die jagtog. Vandag hoop hy om 'n springbok dood te maak, omdat hy 'n koptooisel vir homself van die springbok se vel wil sny. Hy kan hom indink hoe jaloers sy vriende op hom sal wees wanneer hy trots dit om sy kop dra.

Hy will die res van die springbokvel vir sy ma gee om 'n kombers (karos) van te maak, of 'n kledingstuk vir sy nuwe babasuster. Sy ma sal die vel met 'n skerp klip of metaallem skraap om die hare te verwyder, en dit dan vir 'n lang ruk met dierevet smeer om dit sag te maak.

Heitsi gooi die koker waarin hy sy pyle hou oor sy skouer. Die koker is van boombas gemaak. Dit is 'n goeie koker, maar hy wil eintlik een hê wat van dierevel gemaak is, soos wat sy pa dra. Die pyle in sy koker het houtskagte en skerp punte wat van metaal gemaak is. Sy jonger nefies het pyle met punte gemaak van hardehout. In die ou dae was al die pylpunte van hout of been gemaak, maar Heitsi se mense het intussen in aanraking gekom met ander volke, wat metaal aan hulle bekendgestel het.

Hy hou ook 'n bietjie tondel in sy koker. Tondel is die naam vir die sagte, droë plantmateriaal wat sy mense gebruik om 'n vuur te begin. Nog 'n voorwerp wat hy in sy koker hou is 'n hol stuk riet, wat soos 'n strooitjie gebruik kan word om die water wat in plantblare versamel het op te suig.

Hy weet dat hy die pylpunte baie versigtig moet hanteer, want hule is baie skerp. Hy hou hulle skerp deur hulle teen 'n spesiale klip te skuur.

Nog 'n rede waarom Heitsi die pyle baie versigtig hanteer, is omdat hulle punte met 'n laag gif bedek is. Sy nefies gebruik partymaal die sap van giftige plante om pylpunte mee te bedek, maar hy verkies om slanggif te gebruik, omdat dit giftiger is.

Hy tel sy boog op, en bewonder dit vir 'n oomblik. Hy het dit self van die buigbare hout van 'n wilde olyfboom gemaak. Die boogsnaar is gemaak van die derm van 'n klein wildekat wat hy laas somer gejag het. Sy oom se boog se snaar is gemaak van gedraaide palmblare, en dit maak 'n pragtige geluid wanneer Oom die een punt van die boog in sy mond hou en met 'n stok teen die snaar tik. Vanaand, wanneer hulle van die jagtog af terugkeer, sal die mans om die vuur dans, terwyl die vrouens sing en hulle hande klap. Daar sal dan stories van die jagtog vertel word, en Heitsi sal die siel van die springbok wat hy doodgemaak het, vereer.

Die laaste wapen wat hy optel is sy kierie. Dit het 'n lang handvatsel en 'n knop aan die boonste punt. Die kierie was 'n geskenk wan sy geliefkoosde oom. Oom het dit self van sterk hout gemaak. Om die kierie selfs nog sterker te maak, het Oom dit vir 'n lang tyd naby die vuur geplaas. Die hitte van die vuur het die hout uitgedroog en dit taai en sterk gemaak.

Uiteindelik is Heitsi reg vir die jagtog...

VRAE

  1. In hierdie storie word baie verskillende tradisionele materiale wat deur die Khoikhoi-mense gebruik word, genoem. In die tabel hieronder moet jy in die middelste kolom die materiaal wat vir elke doel gebruik is invul, en in die regterkantse kolom watter ander materiaal vir dieselfde doel gebruik kan word.

Doelwit

Watter materiaal is gebruik?

Watter ander materiaal kan gebruik word?

Die maak van 'n koker vir pyle

Boombas

Dierevel

Maak van die pylskag

Hout

(Geen alternatief genoem)

Maak van die pylpunt

Hardehout

Been of metaal

Die maak van die gif vir die pylpunt

Giftige plante

Slanggif

Die maak van 'n boog

Olyfhout

Enige ander buigbare hout

Die maak van die boogsnaar

Dierlike derm

Gedraaide palmblare

Die maak van 'n lem om die hare van diervelle mee af te skraap

Been

Hout of metaal

Watter prosesseringsmetode is gebruik om diervel in sagte leer te omskep?

Die vel is met 'n lem geskraap om die hare te verwyder, en daarna met diervet ingevryf

Watter prosesseringsmetode is gebruik om hout harder te maak sodat dit gebruik kon word vir 'n pylpunt of kierie?

Die hout is in die vuur verhard.

Watter prosesseringsmetode is gebruik om die been harder te maak sodat dit vir pylpunte gebruik kon word?

Die hout is in die vuur verhard.

Hoe het Heitsi sy pylpunte skerp gehou?

Heitsi het hule teen 'n spesiale klip geskuur om hulle skerp te maak.


Later sal ons lees van die tradisionele Khoikhoi huis waarin Heitsi en sy familie gebly het. Eerstens gaan ons leer van 'n ander soort tradisionele huis, wat vandag steeds gesien kan word.

Sommige van die tradisionele huise in Afrika word van modder of klei gemaal. In die aktiwiteit Maak bakstene, het ons gesien dat modder ('n mengsel van grond en water) nie 'n baie sterk materiaal is nie. Wanneer dit droog is, kan dit verbrokkel en inmekaarval. Wanneer dit egter versterk is, kan dit 'n sterk en duursame boumateriaal wees wat gebruik kan word om 'n huis te bou. As dit goed gebou word, kan die huis baie jare lank hou.

Om 'n modderhuis sterker te maak


In hierdie aktiwiteit word van leerders vereis om internet videos te kyk. Indien daar nie toegang tot die internet is nie, is daar prente hierby ingesluit waarna die leerders as 'n alternatief kan kyk.

In hierdie aktiwiteit gaan ons na 'n aantal videos en prente kyk om idees te kry van hoe om modder te prosesseer tot 'n sterk en duursame boumateriaal. As dit nie vir jou moontlik is om na die videos te kyk nie, dan kan jy as 'n alternatief na die prente kyk. Baie van hierdie tradisionele boumetodes het gewild geword onder hedendaagse mense wat volhoubaar wil leef.

INSTRUKSIES EN VRAE:

Volg die skakel na die eerste video http://www.youtube.com/watch?v=-NlhtLDR-3s&feature=related. Kyk na die video en beantwoord dan die vrae. Alternatiewelik kan jy kyk na die prent hieronder, wat 'n seun wys wat leer om 'n moddermuur te bou.

'n Seun besig om te help om 'n moddermuur te bou
Die muur van 'n modderhuis met 'n stokraam.
Van watter materiaal is die huis in die video en in die prente gemaak?

Modder, stokke en sement

Die man in die video het twee metodes gebruik om die mure van sy huis te versterk. Wat is hulle? Alternatiewelik, kyk na die tweede prent van 'n naby-foto van 'n muur om te sien hoe hulle die muur versterk het.

Hy het sement by die modder gevoeg, en hy het stokke gebruik om 'n raamwerk vir die huis te bou.

Volg die skakel na die tweede video http://www.youtube.com/watch?v=XNfArvnLxO0. Kyk na die video en beantwoord dan die vrae, of kyk na die prente hieronder.

'n Naby-foto van die modder gebruik om die muur te maak.
Die moddermengsel.
Watter materiale word aanbeveel om die modder te versterk?

Droë gras en klippe.

Hoekom dink jy moet die muur dikker aan die onderkant as die bokant gebou word?

Die muur sal meer stabiel wees as dit dikker aan die onderkant gebou is. Dit sal dan nie so maklik omval nie.

Skryf 'n stapsgewyse prosedure neer vir die bou van 'n modderskuiling.





Onderwysersnota: In die video is die stappe duidelik uiteengesit, maar die video is nie nodig om die stappe neer te skryf nie. Die stappe kan byvoorbeeld insluit om eerstens stokke in die grond te druk om uit te merk waar die mure van die huis sal wees, dan om modder te maak of the versamel, en dan om gras en klippe daarby te voeg om dit te versterk. Dan word die modder teen die stokke gedruk soos wat die seun in die eerste prent doen, en laastens word die modder gelaat om droog te word.

Volg die skakel na die derde prent wat wys hoe om 'n moddermuur te bou http://youtu.be/lS1vmfIRkkg. Alternatiewelik kan jy mooi na die prente hieronder kyk.

Die mengsel van strooi en klei wat mense soms gebruik om 'n muur te bou word strooiklei genoem. 'n Ander manier om 'n strooikleimuur te bou is om bakstene gemaak van strooiklei te gebruik.

Die vrou in die prent is besig om bakstene vir 'n nuwe huis te maak. Kyk mooi na die prent van die bakstene wat sy gemaak het, en beantwoord dan die vrae.

'n Vrou wat bakstene maak.
Watter materiaal het die vrou by die modder gevoeg om die bakstene te versterk?

Strooi, gras

Wat word hierdie mengsel genoem?

Strooiklei

Sal dit moontlik wees om die strooi of gras by te voeg nadat die bakstene gemaak is? Wanneer behoort die strooi by die klei gevoeg te word?

Nee, die strooi behoort bygevoeg te word voor die klei tot bakstene verhard.

Laastens wys die vierde video 'n ander manier om klei bakstene te versterk. http://youtu.be/0oBwpFS4Euk. Kyk na die video tot aan sy einde en beantwoord dan die vrae. Alternatiewelik, kyk na die prente hieronder.

Die giet van water in die mengsel van modder en strooi.

Die plaas van die mengsel in 'n gietvorm.

Die plaas van die moddermengsel in die gietvorm.

Verwydering van die gietvorm.

Die laat van die bakstene om uit te droog.

Bevat die bakstene strooi of klippe?

In die video bevat hulle slegs klei/modder. In die prente hierbo bevat hulle wel strooi en gras.

Hoe sorg die man dat al die bakstene dieselfde lyk?

Hy vul 'n houer (gietvorm) met die klei, en tiep die klei dan uit die gietvorm voordat dit droog word.

Nadat die bakstene gemaak is, word hulle op 'n groot stapel gepak, en dan word 'n vuur onder die stapel gemaak. Wat dink jy is die doel van hierdie prosedure?

Die bakstene word gebak om hulle hard te maak.

Maak 'n lys van al die verskillende maniere waarop modder of klei sterker gemaak kan word wanneer ons dit wil gebruik om 'n huis te bou.






  • Die modder kan met strooi en klippe gemeng word.
  • Die modder kan met sement gemeng word.
  • Die modder kan binne-in 'n raamwerk van stokke gepak word.
  • Die moddermure kan dikker aan die onderkant gebou word.
  • Die modder kan in bakstene gevorm word en dan gebak word.

Jy mag uit die storie Heitsi berei voor vir die jagtog onthou dat Heitsi een van die Khoikhoi-mense was, nog voor Suid-Afrika 'n land was. In daardie dae was daar geen grense, geen provinsies, geen dorpe of stede, en geen paaie nie. Niemand het land 'besit' nie; die land het aan almal wat daarop gebly het behoort. Kan jy dit glo!

Soos alle vroeë mense, moes die Khoikhoi alles wat hulle nodig gehad het self maak, omdat daar natuurlik geen winkels in daardie tyd was nie! Hulle moes wat ook al vrylik beskikbaar was gebruik.

Die Khoikhoi-mense was nomade. Dit beteken dat hulle nie vir lank op een plek gebly het nie. Hulle het elke paar maande hulle huise en besittings geskuif soos die seisoene verander het. Op hierdie manier kon hulle altyd naby goeie weiding wees. Vars groen gras en bome het beteken dat daar blaar-etende diere sou wees om te jag. Dit het ook beteken dat daar goeie kos vir hulle en hul bokke sou wees om te eet.

Lees die storie mooi deur vir leidrade oor watter materiale gebruik is om 'n tradisionele Khoikhoi huis te bou.

Heitsi trek

Heitsi se stam is weer aan die trek. 'n Paar dae gelede het die stam al hulle besittings opgepak, en hulle lang trek na die plek wat hul tuiste vir die somermaande sal wees begin. Die plek waar hulle gebly het, het droog en stowwerig geraak, en dit het al moeiliker geraak om goeie kos te kry om the eet. Hulle het hulle hut uitmekaar gehaal, wat hulle sal herbou as hulle by hul bestemming kom.

Almal moet help dra gedurende die lang tog. Heitsi dra sy eie slaapmat en karos, en sy jagwapens. Hy moet ook 'n oog hou oor die bokke ingeval hulle te ver van die stam af wegdwaal.

Na baie dae se stap kom hulle by die regte plek uit. Nou kan hulle hul huis herbou.

Die raamwerk van die huis moet sterk wees sodat die huis stewig kan staan. Heitsi se ma en tannies het 'n paar jong bome daar naby gevind, en is besig om lang, dun takke af te sny wat perfek sal wees vir die maak van die huis. Nadat hulle die takke afgesny het, stroop hulle die blare af.

Die mans buig die buigbare takke in halfmaanvorms, en bind hulle dan saam met sagte stukke boombas. Dit is hoe hulle 'n koepelvormige raamwerk vir die huis bou.

Kan jy die raamwerk van boomtakke sien? Kan jy sien waarvan die huis gemaak is?

U kan die aandag daarop vestig dat die raamwerk in die foto's gemaak is van dun, buigbare takke, en dat die hut van rietmatte gemaak is.

Vrouens wat die rietmatte aan die raamwerk vasmaak.

Wanneer die raamwerk voltooi is, is dit gereed om met rietmate bedek te word. Dit is hierom dat dit 'n matjieshuis genoem word. Heitsi se ma en tannies het die matte gemaak deur riete met tou wat hulle van dun palmblare gemaak het, saam te bind.

Die hele familie moet met die vloer van die huis help. Hulle bring klei vanaf 'n nabygeleë rivier en Heitsi se ma maak die vloer sterk deur die nat klei met haar voete in te stamp. Wanneer die klei uitgedroog het, sal die vloer met dieremis gesmeer word. Hierdie is nie so afstootlik soos dit mag klink nie - die mis seël die klei om te verhoed dat dit sanderig en stowwerig word.

'n Vuurgat sal in die middel van die vloer gegrawe word, met slaapholtes (omtrent 15 cm diep) daarom. Sagte plantmateriaal sal in die slaapholtes geplaas word, en dit sal met matte en karosse bedek word om gemaklike beddens vir Heitsi en sy familie te maak.

Heitsi is mal oor sy draagbare huis. Dit is die perfekte skuiling. In warm, droë weer laat die openinge tussen die riete lug toe om deur die huis te sirkuleer, sodat dit koel bly. Dit laat ook lig in. Hy weet dat wanneer die reëns kom en die rietmatte nat word, die riete die water sal absorbeer en sal uitswel. Dan sal hulle styf seël en die binnekant van die huis teen waterlekasies beskerm. Tydens die koue maande, sal die binnekant van die huis ook met dierevelle uitgevoer word om dit ekstra warm en gemaklik te maak.

'n matjieshuis met materiaal bedek.

Dink oor Heitsi se matjieshuis


VRAE

  1. In die storie het ons geleer hoe baie verskillende tradisionele materiale deur die Khoikhoi gebruik is om hulle draagbare huise te bou. Maak 'n lys van al die materiale wat jy in die storie kan vind, en sê hoe hulle gebruik is. Gebruik die tabel hieronder vir jou lys.

Tipes tradisionele materiaal

Hoe is die materiaal gebruik?

Dierevel

Gebruik om 'n karos (sagte velkombers) te maak

Buigbare takke

Raamwerk van die huis (matjieshuis)

Stroke boombas

Bindings vir die matjieshuis raamwerk

Matte

Riete

Tou

Gedraaide palmblare

Klei

Vloer van die hut

Dieremis

Die seëling van die hut se vloer

Sagte plantmateriaal

Uitvoer van die slaapholtes

  1. Wat beteken dit as ons sê Heitsi se huis is draagbare?

    'n Draagbare huis is 'n huis wat afgebreek kan word, beweeg en dan weer op 'n ander plek gebou kan word.

  2. Skryf 'n paragraaf om die materiale en metodes wat Heitsi en sy familie gebruik om hulle huis in die winter warm en droog te hou, te beskryf.






    Die familie het warm beddens uit plantmateriaal gemaak en hulle met matte en karosse bedek. Hulle het die beddens rondom die vuur gemaak, sodat almal naby die vuur kon slaap. Hulle het hulle huise van riete gebou, wat sou uitswel in reënerige weer, om die binnekant van die huis warm te hou. Hulle het die huis met dierevelle bedek vir ekstra warmte.

  3. Hoe verterk Heitsi se ma die vloer van die matjieshuis?



    Heitsi se ma maak die vloer van klei, wat sal hard word wanneer dit uitdroog. Dan bedek sy die klei met dieremis wat 'n seël bo-op die klei sal vorm. Dit verhoed dat die kleioppervlak opbreek en stof vorm.

  4. Kyk na al die prente van moderne 'huise' hieronder. Watter een is die meeste soos Heitsi se huis? Waarom sê jy so?
    'n Baksteenhuis
    'n Karavaan
    'n Tent


    Die tent is die meeste soos Heitsi se huis omdat dit maklik en vinnig opgebreek kan word en lig genoeg is om na 'n nuwe ligging gedra te word.

  5. Teken 'n prent van die vloerplan van Heitsi se huis.







  6. Indien daar tyd in die klas is, gebruik enige gepaste materiale om 'n model van Heitsi se huis te bou.

Ons het gesien dat Heitsi se familie gras gebruik om rietmatjies vir hulle matjieshuis. te maak. In Afrika gebruik baie mense plantprodukte wat plantvesels genoem word, om voorwerpe te maak. Die mense weef die plantvesels saam om verskillende voorwerpe soos rietmatte, mandjies, of selfs dekking om 'n dak vir 'n huis te maak. Hierdie is 'n tipe tradisionele prosessering.

'n Vrou wat 'n grasmandjie weef.
'n Man wat 'n grasmatjie weef. http://www.flickr.com/photos/miusam/428068620/

Identifiseer voorwerpe wat van plantvesels gemaak is


AANWYSINGS

Elkeen van die volgende prente wys 'n voorwerp wat van plantvesels gemaak is.

Identifiseer wat dit is en hoe mense hierdie voorwerpe gebruik

Voorwerp van plantvesels gemaak.

Beskrywing

http://www.flickr.com/photos/37743612@N05/4685092625/

'n Zoeloe 'Iquamba' biermandjie vir die hou van Zoeloe-bier. Dit word gemaak deur grashalms saam te weef.

Die dak is van dekking gemaak, wat droë gras is wat styf saamgepak is.

http://www.flickr.com/photos/cameronparkins/210589508/

Die persoon dra 'n strooihoed om sy gesig teen die son te beskerm.

http://www.flickr.com/photos/christianhaugen/3657221524/

Hierdie huise is van rietmatte gemaak, soortgelyk aan die matjieshuis.



  • Natuurlike materiale kom vanaf plante, diere of die Aarde
  • Rou-materiale is materiale wat nog nie geprosesseer is nie.
  • Geprosesseerde materiale is rou-materiale wat deur mense verander of geraffineer is.
  • Mense prosesseer materiale al vanaf die vroegste tye.
  • In Afrika prosesseer mense al materiale vir honderde jare, byvoorbeeld om kleipotte en geweefde matte te maak.


Wat is rou-materiale?

Rou-materiale is materiale wat nog nie geprosesseer is nie.

Wat is natuurlike materiale?

Natuurlike materiale kom vanaf plante, diere en die Aarde.

Wat is geprosesseerde materiale?

Geprosesseerde materiale is rou-materiale wat deur mense verander of geraffineer is.

Watter prosesseringsmetode het die Khoikhoi-mense gebruik om been en hout hard en sterk te maak?

Hulle het vuur gebruik om die hout en been stadig uit te droog sonder om dit te brand. Hierdie proses word vuur-verharding genoem.

Waar het die Khoikhoi-mense die materiale gevind wat hulle gebruik het om hul huise van te maak?

Al die materiale is in die natuur gevind.

Hoe kan sand en klei sterker gemaak word as ons dit wil gebruik om 'n huis te bou?


Sand en klei kan sterker gemaak word deur 'n bindingsmiddel soos sement by te voeg, en/of deur 'n versterkende materiaal soos strooi, klippe of self staalversterkings.

Kyk na die prent van 'n matjieshuis hieronder. Dit is 'n ou een en was anders gemaak as die een wat Heitsi se familie gemmak het, aangesien hierdie een nie rietmatte gebruik nie, maar eerder bosse wat aan die raam vasgemaak is. Watter metode dink jy is beter en waarom?

'n Ou matjieshuis. http://www.flickr.com/photos/9511023@N03/4279851038/


Leerders behoort te sê dat die matjieshuis wat deur Heitsi se familie gebou is beter is, omdat die geweefde riete sterker is en beter aanmekaar gehou word as die bosse wat net aan die raam vasgemaak is.

Die maak van voorwerpe uit plante is 'n tradisionele Afrika-proses. Daar is verskillende maniere om dit te doen en verskillende dele van plante kan gebruik word. Die drie prente hieronder wys almal foto's van geweefde produkte, maar hulle is van verskillende plantdele gemaak. Skryf 'n beskrywing van elkeen neer en sê waarvoor jy dink dit gebruik kan word.

Geweefde produk

Beskrywing

http://www.flickr.com/photos/rvoegtli/5404885227/

Hierdie is gemaak van stokke en riete wat gebuig is toe hulle nog groen was. Dit is 'n baie sterk mandjie om goed in te dra.

Dit is gemaak van baie kleiner plantvesels waarvan tou gemaak is deur dit saam te stik/saam te weef. Dit sal redelik buigbaar wees, en geskik om 'n sak van te maak.

Hierdie is gemaak van groter stroke van blare of riete (miskien piesangpalm-blare wat in repe gesny is), en wat saamgeweef is. Dit kan ook gebruik word om 'n mandjie of 'n sak te maak wat ook gebruik kan word om iets te dra, maar nie so sterk sal wees soos die eerste mandjie nie.

Hier is 'n vrou besig om 'n geweefde produk te gebruik. Dink of jy, of enige-iemand in jou familie, enige geweefde produkte in die alledaagse lewe gebruik, en skryf hulle ook neer.
'n Vrou van Oeganda. http://www.flickr.com/photos/amslerpix/6637298391/



'n Vrou wat 'n mandjie, gemaak deur plant-stokkies saam te weef, gebruik om haar vrugte te dra. Enige moontlike antwoorde waar 'n leerder 'n geweefde produk mag gebruik is aanvaarbaar.